Terugroep: Een van die belangrikste vaardighede wat jy jou hond kan leer
’n Betroubare terugroep word gebou deur ’n duidelike sein, belonings wat jou hond waardeer en oefening wat geleidelik moeiliker word. Moenie jou hond straf wanneer hy uiteindelik kom nie. Oefen in maklike omgewings voordat jy groter afleidings byvoeg.
Waarom is betroubare terugroep so belangrik?
Een van die belangrikste vaardighede wat jy jou hond kan leer, is ’n betroubare “recall”, oftewel terugroep. Terugroep verwys na Vlekkie se vermoë om vinnig en effektief na ’n familielid te gaan wanneer hy geroep word. ’n Goeie kom-bevel kan letterlik jou hond se lewe in ’n noodsituasie red.
Een van die grootste redes waarom ’n terugroepbevel soms faal, is omdat dit nie konsekwent geoefen en sinvol beloon word wanneer ’n hondjie nog jonk is nie. Wanneer ’n jong hondjie wel aanvanklik ’n goeie terugroep het, raak mense gemaklik en hou hulle dan dikwels op om dit te oefen. Hulle reken Vlekkie het reeds die vaardigheid bemeester. In realiteit is dit juis soos ’n spier wat altyd moet aanhou oefen om sterk te bly.
Waarom raak terugroep moeiliker tydens adolessensie?
Skielik tref adolessensie en dan lyk dit asof alles wat Vlekkie geleer het in elk geval vergete is! Waarom raak terugroep dikwels moeiliker tydens adolessensie?
Adolessensie is ’n belangrike maar soms moeilike emosionele ontwikkelingsfase waartydens ’n hond se onafhanklikheid, verkenningsdrang en belangstelling in die omgewing dikwels toeneem. Daar is skielik soveel interessante dinge om te ondersoek: reuke, ander honde, mense, beweging en nuwe omgewings. Dit beteken nie dat jou hond “hardkoppig” geword het nie. Dit beteken dikwels bloot dat die omgewing op daardie oomblik vir hom meer lonend is as om na jou toe te kom, en dit is ook normaal.
Juis hieroor moet die terugroep-opleiding gedurende adolessensie voortgaan.
Hoe maak ons die “kom”-bevel per ongeluk swakker?
Dit gebeur dikwels só:
- Jy is nie seker of jou hond gaan kom nie.
- Jy roep hom in elk geval.
- Hy kom nie.
- Jy roep weer … en weer.
- Jou frustrasie begin opbou.
- Wanneer hy uiteindelik kom, is jy kwaad en kry hy dalk raas.
Vanuit jou hond se perspektief kan die boodskap dan wees: “Wanneer ek geroep word, gebeur daar nie noodwendig iets goed nie.”
Nog ’n algemene fout is om altyd terugroep te gebruik wanneer al die pret verby is. Vlekkie hardloop, speel en snuffel. Jy roep hom. Hy kom. Julle sit hom onmiddellik in die kar en ry huis toe. As dit die patroon word, leer Vlekkie: “As ek na my mens toe gaan, eindig die lekker dinge.” Dit is dus te verstane as hy later huiwer, stadiger kom of jou eerder ignoreer.
Hoe oefen jy dan ’n sterker terugroep?
1. Gebruik ’n aparte of unieke terugroepsein
Jou hond se naam hoef nie noodwendig sy “bevel” te wees nie. Ons gebruik ’n hond se naam voortdurend: om sy aandag te kry, met hom te praat of bloot na hom te verwys, en dan verwag ons nie dat Vlekkie na ons toe kom nie. Kies eerder ’n aparte, kort woord wat spesifiek met terugroep geassosieer word. Gebruik dit konsekwent en met ’n positiewe, uitnodigende stemtoon.
2. Maak dit voortdurend die moeite werd om na jou toe te kom
Honde reageer sterk op beweging en sosiale interaksie. Wanneer jy terugroep oefen, kan jy:
- ’n vrolike stemtoon gebruik
- ’n paar treë agteruit beweeg
- jou lyftaal uitnodigend maak
- afbuk
- jou hond se belangstelling in jou verhoog deur beweging, speel of ’n gepaste beloning te bied
Jy wil hê jou hond moet leer: “Daar gebeur altyd iets lekker by my mense!”
3. Moenie jou hond straf omdat hy uiteindelik gekom het nie
Selfs al het Vlekkie jou voorheen geïgnoreer. As jy Vlekkie straf wanneer hy wel na jou toe kom, kan jy die gedrag wat jy eintlik wil versterk, verswak. Selfs ’n intimiderende postuur kan vir sensitiewe honde baie oorweldigend wees.
4. Stel Vlekkie op vir sukses
Moenie van ’n hond verwag om van ’n groep hondevriende af weg te hardloop as hy nog nooit daardie vaardigheid onder sulke omstandighede geoefen het nie. Bou die vaardigheid geleidelik op en oefen eers in die huis, in die tuin en dan in ’n stil buite-area.
Begin met klein afleidings, dan moeiliker en uiteindelik in meer uitdagende omgewings. Wanneer jou hond sukkel en nie sukses behaal nie, moet jy dit makliker maak sodat Vlekkie nie aanhou om die verkeerde gedrag te versterk nie. Mens maak dit makliker deur die afstand te verkort, die afleiding te verminder of na ’n meer bekende omgewing te beweeg.
5. Gebruik ’n lang leiband as bestuursinstrument
’n Lang leiband, saam met ’n goedpassende harnas, kan baie nuttig wees wanneer jy terugroep buite oefen. Dit gee jou hond meer vryheid om te beweeg, terwyl jy steeds ’n veiligheidsnet het en kan voorkom dat hy herhaaldelik leer dat hy die hier-sein kan ignoreer. Die doel is om soveel moontlik suksesvolle herhalings te skep.
6. Gebruik ’n beloning wat vir jou hond waardevol is
Nie elke hond word deur dieselfde dinge gemotiveer nie. Kos kan ’n uitstekende beloning wees, maar die waarde daarvan hang onder andere af van jou hond se voorkeure, of sy maag reeds vol is en wat hy as belonings ag. Vir sommige honde is ’n speelding, sosiale interaksie of selfs toegang tot die omgewing ’n fantastiese beloning, byvoorbeeld:
“Kom!” → Vlekkie kom → beloning → “Gaan snuffel!”
Jy het dus nie noodwendig die pret beëindig deur hom terug te roep nie. Jy het hom geleer: “Om na my mense toe te kom, kan toegang tot nog lekker dinge beteken.”
Hoe oefen jy dan ’n sterker terugroep?
Oefen “recall” buite konteks wanneer daar geen druk is nie; dit maak dinge vir julle albei makliker. Maak dit positief. Beloon jou hond goed en bou die vaardigheid geleidelik op. Voorkom dat jou hond herhaaldelik die geleentheid kry om die hier-bevel te ignoreer. As jou hond nie sukses behaal nie, maak dit makliker! Ons wil hê Vlekkie moet leer dat dit die moeite werd is om na jou toe te kom. ’n Hond wat graag na jou toe wíl kom, is baie meer geneig om dit te doen wanneer dit werklik saak maak.
Terugroep is ’n vaardigheid wat jy deur herhaling, goeie assosiasies en konsekwente versterking bou en verkieslik moet aanhou bou gedurende jou hond se verskeie lewensstadiums.
Vrywaring: Hierdie artikel is vir opvoedkundige doeleindes en verteenwoordig nie individuele gedragsadvies nie. Indien jou hond angs, aggressie of ander gedragsuitdagings toon, raadpleeg asseblief ‘n gekwalifiseerde dieregedragskundige of veearts vir persoonlike leiding.
At Jurassic Bark, we specialise in guiding dogs to navigate the urban jungle in a fun, force-free way. We’re committed to fostering strong bonds between dogs and their owners while building confidence and encouraging good behaviour.
For the wellbeing of all dogs and handlers, we reserve the right to deny participation in class if the dog or handler is unwell or if we suspect the dog may be experiencing pain or discomfort.