WeLovePetsSA

Ware taal of net slim leer?

Kan honde regtig praat met knoppies, of leer hulle net om patrone te herken soos ‘n perd honderd jaar gelede glo wiskunde kon doen? Die antwoord lê in twee kragtige leerbeginsels, klassieke en operante kondisionering, wat verklaar hoe honde regtig assosiasies en gevolge verstaan. In hierdie artikel kyk ons na die wetenskap agter die verskynsel, van die bekende Slim Hans tot moderne kommunikasie-knoppies.

Wat is die Clever Hans-effek?

‘Slim Hans’ was ’n perd in Duitsland in die vroeë 1900’s wat aan Wilhelm von Osten behoort het. Von Osten het geglo dat sy perd kon dink en wiskunde doen. Hy het Hans geleer om vrae te “antwoord” deur met sy hoef op die grond te klop.

Hy sou bv vir Hans vra: “Wat is 3 + 2?” Hans sou dan 5 keer klop. Baie mense het gedink die perd kan optel en aftrek, letters herken en vrae verstaan. Hans het selfs openbare demonstrasies gedoen en baie aandag getrek.

Hoe Oskar Pfungst die geheim ontdek het

’n Wetenskaplike met die naam Oskar Pfungst het die perd begin bestudeer en het ’n paar slim eksperimente gedoen.

Gedurende sy ondersoek het hy die volgende ontdek:

  • As die persoon wat die vraag vra die antwoord ken, kry Hans meestal die regte antwoord.
  • As die persoon nie die antwoord ken nie, raak Hans se antwoorde baie minder akkuraat.
  • As Hans nie die persoon kon sien nie, kon hy ook nie die antwoord gee nie.

Wat het regtig gebeur?

Hans het ongelukkig nie wiskunde gedoen nie, maar hy was inderdaad baie slim, maar op ‘n ander manier.

Hy het eintlik geleer om baie subtiele liggaamstaal tekens van mense te lees: klein veranderinge in houding, spanning in die gesig en ’n effense kopbeweging wanneer die regte nommer bereik word, was alles subtiele tekens vir Hans.

Wanneer Hans begin klop het mense effens meer gespanne geraak en wanneer die regte antwoord bereik word, het hulle onbewustelik ontspan. Hans hou dan op met klop en word beloon met groot applous en lekker soet appels! Vandag staan die verskynsel bekend as die ‘Clever Hans effect’. Dit beteken bloot dat ’n dier reageer op onbewustelike menslike leidrade eerder as om die probleem werklik te verstaan. Selfs iets so klein soos wanneer ‘n persoon hul asem ophou in afwagting op iets kan dit vir ‘n oplettende hond ‘n leidraad wees in daardie konteks indien hulle voorheen ‘n assosiasie kon maak.

Bunny with buttons

Hoe leer honde regtig? Twee metodes verduidelik

KLASSIEKE KONDISIONERING

Hier gaan dit oor assosiasies tussen stimuli. Die dier leer dat een ding iets anders voorspel. Die bekendste voorbeeld is die werk van Ivan Pavlov met honde: ‘n Klokkie lui → kos kom. Na ’n paar repetisies: klokkie lui → hond begin speeksel produseer nog voor die kos te voorskyn kom. Hier leer die hond nie deur die gevolge van sy gedrag nie, maar deur assosiasie. Met ’n hond wat kommunikasie-knoppies gebruik, speel beide klassieke kondisionering en operante kondisionering ’n rol in hoe die hond leer wat die knoppies beteken en hoe om dit te gebruik. Die hond leer dus dat ’n sekere woord of knoppie ’n spesifieke gebeurtenis voorspel.

Die hond vorm dus ’n assosiasie tussen die woord en die uitkoms. ‘n Voorbeeld is waar die eienaar die “buite” knoppie druk elke keer voordat hulle buitentoe gaan. Dit word herhaal. “Buite” knoppie → deur gaan oop → hond gaan buite. Na ’n ruk begin die hond opgewonde raak wanneer hy die woord hoor, selfs voordat die deur oopgaan en so leer hulle die konsep van buite met ‘n knoppie.

OPERANTE KONDISIONERING

Hierdie medtode van leer gaan oor gedrag en die gevolge daarvan. Die dier leer: “Wat ek doen beïnvloed wat daarna gebeur.” Dit is hier waar die vier leerkwadrante inkom. Die konsep is ontwikkel deur B. F. Skinner. Die hond leer dat sy eie gedrag ’n gevolg het. Die hond ontdek dat knoppies druk sekere uitkomste veroorsaak, byvoorbeeld: die hond druk die “buite” knoppie en die gevolg: Die eienaar maak die deur oop. Die hond leer dus “Wanneer ek hierdie buite knoppie druk, gaan die deur oop.”

Stella was een van die eerste honde wat bekend geword het vir knoppie-kommunikasie. Haar eienaar, Christina Hunger, het die metode ontwikkel deur die gebruik van spraakterapie beginsels. Stella het uiteindelik meer as 40 woorde gebruik deur middel van knoppies.

Baie kenners meen die waarskynlikste verklaring is ’n kombinasie van klassieke en operante kondisionering en menslike lyftaal leidrade.

Dit beteken dat honde wel kan leer dat sekere knoppies sekere dinge beteken. Die regte vraag kom wel in, tot watter mate…

INTERESSANTE FEITE

  • Honde verstaan woorde en gebare: Sommige honde kan meer as 200–300 woorde en handgebare leer, soortgelyk aan kleuters.
  • Individuele intelligensie verskil: Net soos mense, is sommige honde “genius-honde” wat spesiale vermoëns het om name of konsepte te leer.
  • Honde lees mense se gesigsuitdrukkings: Hulle kan jou gesig, oogbewegings en toon gebruik om jou emosies en bedoelings te verstaan.
  • Operante en klassieke kondisionering werk saam: Honde leer deur assosiasie (klassieke kondisionering) en deur gevolge van hul eie gedrag (operant kondisionering).

Die ‘Comparative Cognition Lab by die University van Kalifornië, in San Diego gelei deur Professor Federico Rossano doen verdere studies oor die kognitiewe vermoëns van diere en honde spesifiek. Ons sien uit na die Wetenskap se nuwe studies!

Vrywaring: Hierdie artikel is vir opvoedkundige doeleindes en verteenwoordig nie individuele gedragsadvies nie. Indien jou hond angs, aggressie of ander gedragsuitdagings toon, raadpleeg asseblief ‘n gekwalifiseerde dieregedragskundige of veearts vir persoonlike leiding.

Gereelde Vrae

Q: Kan honde regtig praat deur knoppies te druk?
A: Ja, honde kan leer dat ‘n spesifieke knoppie ‘n spesifieke uitkoms voorspel, soos ‘n knoppie wat “buite” beteken wat lei tot die deur wat oopmaak. Dit is nie dieselfde as menslike taal met grammatika nie, maar dit toon wel dat honde assosiasies en gevolge van hul eie gedrag kan leer verstaan.

Q: Wat is die Clever Hans-effek?
A: Die Clever Hans-effek verwys na ‘n dier wat reageer op subtiele, onbewustelike liggaamstaal-leidrade van ‘n mens, eerder as om die vraag self te verstaan. Dit is vernoem na ‘n perd, Slim Hans, wat geglo is om wiskunde te kon doen, maar eintlik net mense se gesigsuitdrukkings en houding gelees het.

Q: Wat is die verskil tussen klassieke en operante kondisionering by honde?
A: Klassieke kondisionering leer ‘n hond dat een ding ‘n ander voorspel, soos ‘n klokkie wat kos aankondig. Operante kondisionering leer ‘n hond dat sy eie gedrag ‘n gevolg het, soos ‘n knoppie druk wat die deur oopmaak. Honde wat kommunikasie-knoppies gebruik, leer deur albei metodes gelyktydig.

Q: Hoeveel woorde kan ‘n hond leer verstaan?
A: Navorsing dui daarop dat sommige honde 200 tot 300 woorde en gebare kan herken, soortgelyk aan ‘n klein kleuter se woordeskat. Individuele honde verskil egter baie en sogenaamde “genius-honde” kan selfs meer woorde en konsepte as die gemiddelde hond leer.

Q: Hoe begin ek om my hond kommunikasie-knoppies te leer gebruik?
A: Begin met een of twee knoppies wat vir jou hond die belangrikste is, soos “buite” of “kos”. Gebruik die knoppie self elke keer voor daardie aksie plaasvind, sodat jou hond die assosiasie kan vorm. Wees geduldig, beloon enige poging positief en voeg eers nuwe woorde by sodra die eerste een gevestig is.

Monique de Jager, Jurassic Bark Training

At Jurassic Bark, we specialise in guiding dogs to navigate the urban jungle in a fun, force-free way. We’re committed to fostering strong bonds between dogs and their owners while building confidence and encouraging good behaviour.

For the wellbeing of all dogs and handlers, we reserve the right to deny participation in class if the dog or handler is unwell or if we suspect the dog may be experiencing pain or discomfort.

Facebook
LinkedIn
Scroll to Top