Hoe kies jy 'n etiese honde teler in Suid Africa?
Die keuse van ‘n etiese honde teler is een van die mees bepalende besluite wat enige toekomstige honde-eienaar in Suid-Afrika kan neem. Dieregedragskundige Monique de Jager (DipCABT, C.C.A.B) verduidelik die werklike verskil tussen ‘n verantwoordelike teler en ‘n agterplaas-teler; van gesondheidstoetse en stimuleringsprogramme tot die regte vrae om te vra voor jy besluit. Hierdie artikel bemagtig jou om ‘n keuse te maak wat jou hond se lewe ten goede sal verander.
Die besluit om ‘n hond in jou lewe te verwelkom, is een wat met sorg en deeglike oorweging geneem moet word. ‘n Hond is ‘n lewenslange verbintenis. Dit is nie ‘n impuls aankoop nie. Een van die belangrikste stappe in hierdie proses is om te verseker dat jy jou nuwe metgesel van ‘n verantwoordelike, etiese teler kry. Baie mense is egter nie bewus van die groot verskil tussen ‘n etiese teler en ‘n sogenaamde agterplaas-teler nie en dit is juis hierdie onkunde wat agterplaas-telers in staat stel om te floreer.
Wat is die verskil tussen 'n etiese teler en 'n agterplaas teler?
Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is ‘n teler iemand wat honde teel of voortbring, maar die manier waarop dit gedoen word, maak ‘n groot verskil. In hierdie artikel tref ons onderskeid tussen hierdie twee tipes telers, waarom dit so belangrik is om goeie keuses te maak en help jou om die koring van die kaf te skei wanneer jy na jou volgende troeteldier soek.
Waarom moet jy agterplaas telers vermy?
Die ondersteuning van agterplaas-telers het verreikende gevolge. Nie net vir die individuele hond wat jy koop nie, maar vir die hele ras en die breër hondewelsyn-gemeenskap. Wanneer ‘n koper by ‘n agterplaas-teler koop, skep hy of sy ‘n finansiële aansporing vir hierdie persoon om aan te hou teel sonder die nodige kennis, hulpbronne of toewyding. Dit is ‘n kringloop wat diere laat ly.
Agterplaas-telers doen gewoonlik geen gesondheidstoetse op hul teeldiere nie. Dit beteken oorerflike siektes soos progressiewe netvliesatrofie (PRA), heupdisplasie, hartafwykings en verskeie ander genetiese toestande ongesiens van geslag tot geslag oorgedra word. Die koper eindig dikwels met ‘n hond wat op ‘n jong ouderdom siek word en die veeartsrekeninge ver oorskry die aanvanklike aankoopprys. Die emosionele pyn van ‘n siek of sterwende troeteldier word dikwels onderskat.
Tewe by agterplaas-telers word dikwels geteel op elke siklus. Dit het ernstige gevolge vir die teef se gesondheid en welstand. Sonder behoorlike voeding, mediese sorg en rus tussen werpsels, verswak hierdie diere oor tyd. Verder word hondjies soms te vroeg van hul moeders weggeneem. Dit het ‘n direkte nadelige impak op hul sosiale ontwikkeling en gedrag. Hierdie hondjies toon dikwels angs, aggressie of ander gedragsprobleme in hul volwasse lewe.
Waarom is agterplaas teling skadelik vir jou hond?
Die gebrek aan ‘n stimuleringsprogram in die vroegste weke van ‘n hondjie se lewe het ook ‘n blywende uitwerking. Etiese telers stel hondjies doelgerig bloot aan verskillende klanke, teksture, mense en ervarings. Dit is ‘n proses wat hul breinontwikkeling bevorder en hulle meer aanpasbaar en selfversekerd maak. Agterplaas-hondjies mis hierdie kritieke venster van verryking, wat dikwels lei tot angstige of onder gestimuleerde volwasse honde.
Nog ‘n ernstige bekommernis is die onbeheerde teling wat bydra tot rasontaarding. Wanneer telers slegs op kleur, uiterlike eienskappe of markgewildheid fokus sonder om aandag te gee aan temperament, gesondheid en rasstandaarde, ly die betrokke rasse op die lang duur. Dit is ‘n proses wat oor geslagte heen sluipend plaasvind, maar uiters skadelik is. Verantwoordelike telers, daarenteen, werk doelgerig om die standaard van hul ras te handhaaf en te verbeter.
Dit is ook belangrik om te beklemtoon dat agterplaas-teling in baie gevalle inbreuk maak op die Wet op Dierbeskerming (Wet 71 van 1962), sowel as munisipale verordeninge rakende die getal diere wat op ‘n erf gehou mag word. Deur by sulke telers te koop, ondersteun kopers, dikwels onwetend, bedrywighede wat onwettig kan wees. Die bewuste verbruiker het die mag om hierdie praktyk te ontmoedig deur sy of haar koopkrag verantwoordelik te gebruik.
Hoe lyk 'n etiese teler in die praktyk?
Geen lys kan volledig wees vir elke situasie nie, maar as jy tydens ‘n besoek of gesprek met ‘n teler ‘n ongemaklike gevoel kry dat iets nie pluis is nie, is dit die moeite werd om dieper te delf voor jy ‘n besluit neem. Jou intuïsie is dikwels ‘n betroubare raadgewer.
Onthou: ‘n verantwoordelike teler sal nooit druk uitoefen om vinnig te besluit, of afslag aanbied as jy twee hondjies koop nie. Hulle is trots op hul werk en verwelkom vrae. Hierdie telers wys graag die omgewing waarin die hondjies groot word en verwelkom vrae oor die teelouers se gesondheidsrekords. As ‘n teler huiwer om die inligting te deel, is dit ‘n rooi vlag om op ag te slaan.
As ingeligte honde-eienaars en liefhebbers het ons almal ‘n verantwoordelikheid in die bevordering van etiese teling. Deur slegs by verantwoordelike telers aan te koop, stuur ons ‘n duidelike boodskap: die welsyn van diere gaan voor finansiële wins. Saam kan ons ‘n kultuur skep waar honde met die sorg, respek en liefde behandel word wat hulle verdien, van geboorte af.
Laai ons gratis kontrolelys af
Vrywaring: Hierdie artikel is opvoedkundig van aard en is geskryf deur ‘n gesertifiseerde dieregedragsspesialis. Dit vervang nie professionele veeartsgeneeskundige advies nie. Raadpleeg altyd ‘n geregistreerde veearts vir spesifieke gesondheidskwessies wat verband hou met jou troeteldier.
Gereelde Vrae
V: Hoe weet ek of ‘n honde teler in Suid-Afrika eties is?
A: ‘n Etiese teler is gewoonlik by KUSA geregistreer, betrokke by die ras se klubstruktuur en voer gesondheidstoetse soos PRA- en heupdisplasie-toetsing uit op teeldiere. Hulle verwelkom besoeke, deel gesondheidsrekords openlik en bied lewenslange ondersteuning aan kopers. As ‘n teler aarsel om jou die omgewing te wys of rekords te deel, is dit ‘n rooi vlag.
V: Wat is die gevaar as ek by ‘n agterplaas-teler koop?
A: Agterplaas-telers doen gewoonlik geen mediese toetse op teeldiere nie, wat beteken erflike siektes kan ongesiens oorgedra word. Hondjies word dikwels te vroeg van hul moeders weggeneem en mis noodsaaklike vroeë stimulering, wat kan lei tot angs, aggressie en ander gedragsprobleme in hul volwasse lewe. Die koste van veeartsorg later kan ver die aanvanklike aankoopprys oorskry.
V: Wat is ‘n inteeltkoëffisiënt en hoekom is dit belangrik by die keuse van ‘n etiese hondteler?
A: Die inteeltkoëffisiënt meet hoe naby verwant twee teeldiere aan mekaar is. Etiese telers streef na ‘n koëffisiënt van laer as 5% om genetiese diversiteit te handhaaf en die risiko van oorerflike gesondheidsprobleme te verminder. Agterplaas-telers is gewoonlik nie bewus van hierdie meting nie en monitor dit ook nie.
V: Op watter ouderdom moet ‘n etiese teler hondjies laat gaan?
A: Verantwoordelike telers laat hondjies eers op agt weke na hul nuwe huise gaan. Vroeëre afspeen het ‘n bewese negatiewe uitwerking op ‘n hondjie se sosiale ontwikkeling, emosionele welstand en latere gedrag. As ‘n teler hondjies voor agt weke aanbied, is dit ‘n duidelike rooi vlag.
V: Is dit onwettig om by ‘n agterplaas-teler te koop in Suid-Afrika?
A: Dit is nie altyd onwettig om by sulke telers te koop nie, maar agterplaas-telers self, maak dikwels inbreuk op die Wet op Dierbeskerming (Wet 71 van 1962) en munisipale verordeninge rakende die getal diere wat op ‘n erf gehou mag word. Deur by sulke telers te koop, ondersteun kopers dikwels onwetend bedrywighede wat moontlik onwettig is.
At Jurassic Bark, we specialise in guiding dogs to navigate the urban jungle in a fun, force-free way. We’re committed to fostering strong bonds between dogs and their owners while building confidence and encouraging good behaviour.
For the wellbeing of all dogs and handlers, we reserve the right to deny participation in class if the dog or handler is unwell or if we suspect the dog may be experiencing pain or discomfort.